Die praktiese God

Mrt2017-redfotoToe ek nog op skool was, het ek een aand saam met ’n groep maats op my ouerhuis se grasperk gelê en sterre kyk. Ons het die verste hoek in die tuin gekies waar dit goed donker was. My broer het op sy kitaar begin tokkel terwyl ons ander probeer kyk het hoeveel verskietende sterre ons kon sien. Die melkweg was ’n sagte, grys streep oor die hemelruim.

Maar skielik is die rustigheid deur ’n harde klapgeluid versteur. Dit het uit ’n groot bos bome gekom, ’n entjie van ons af. Eensklaps was die nag baie donker.

Dit is net ’n dennebol wat uit ’n boom geval het, het ons vir mekaar gesê. Dalk ’n verdwaalde bokkie wat op ’n tak getrap het. My broer se vingers het oor die kitaarsnare gestryk.

Ná die tweede klapgeluid het hy opgehou speel. Met ingehoue asem het ons geluister. Wat kan dit tog wees?

Toe kom dit weer, maar harder as die eerste twee kere. Ek het die afstand huis toe met my oë gemeet. Dit was baie ver – daar was twee terrasse én ’n stel trappe tot by die agterdeur.

En toe breek daar ’n kabaal uit: takke wat breek, ’n herrie van bome wat knars en kraak. Ek het opgespring en koers gekies, reguit huis toe. Ek kan nie juis vinnig hardloop nie. In graad 1 het ek heel laaste in die 60 meter geëindig.

Uit die hoek van my oog het ek gesien hoe my nefie, die atleet in ons midde, ook begin rieme neerlê. Maar hierdie keer was ek hom voor. “Mamma!” het ek geskree toe ek halfpad teen die steil grasperk se eerste terras uit was.

By die agterdeur in. “Mamma!” het ek uitasem geroep – en toe eers het my nefie by die stoeptrappe opgehardloop gekom.

Vir die eerste keer in my lewe was ek vinniger as hy.

 

In Efesiërs 1 bid Paulus passievol vir die gelowiges in Efese. Hy vra dat hulle sal weet “hoe geweldig groot sy (God se) krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo. Dit is dieselfde kragtige werking van sy mag wat Hy uitgeoefen het toe Hy Christus uit die dood opgewek en Hom in die hemel aan sy regterhand laat sit het” (Ef 1:19-20).

Ek verwonder my aan hoe prakties God is. Hoe Hy ons met adrenalien in ons lyf geskep het sodat ons voor gevaar kan wegvlug of daarteen kan veg.

Dit geld ook die uitleef van ons geloof. Die Here weet dat die lewe soms swaar is, maar Hy lewer ons nie aan ons eie talente (of die gebrek daaraan) uit nie; Hy gee ons eerder die versekering dat daar ’n krag in ons werk wat onmeetbaar sterker as ons eie vermoë is.

God wys sy krag in die lewe van gelowiges. In gewone mense se stories. LiG het die voorreg om soveel hiervan te vertel – dié waar Hy sy krag wys wanneer ons bly hoop, ten spyte van die moedeloosheid wat ons bekruip. Wanneer ons in sy beloftes glo, ten spyte van die onverwagse draaie wat die lewe met ons maak. Wanneer Hy ons dring om liefdevol en genadig te wees, ten spyte van ander se moedswilligheid en hatigheid.

God se krag bring vertroue waar daar vrees moet wees; lankmoedigheid waar ongeduld uitborrel; vergewensgesindheid wanneer die onmoontlike vergewe moet word. Dit is dié soort krag wat lewe bring waar die dood skynbaar heers.

 

Wanneer ek voel my krag is te min, dink ek aan daardie sterrekyk-aand. Word ek herinner aan ’n groter krag wat in my werk. Dit is die kragtige werking van ’n Vader wat ons help om goed en reg te leef. ’n Vader wat lewe bring deur sy Seun.

’n Vader wat ook daardie nuttige adrenalien in ons lyf geskep het, sodat ’n bloedjong, bitter bang dogtertjie so vinnig soos die wind kon hardloop daardie aand toe ’n baie ou boom in die bos langs haar ouerhuis omgeval het.

Francine-handtekening

Berge

Elke dag op my pad werk toe, lê hulle daar soos oer-reuse. Die Hawekwa-berge wat stilweg die soom van die Boland vorm.

Soms skyn die lig só dat elke sloot en skeur in skerp kontras teen die hellings van dié allemintige bergreeks lê. Soms is die lig sag genoeg dat die berge soos golwe rots saggies teen die hemel kabbel.

Ander kere sien ’n mens net die kruin se buitelyn afgeëts teen ‘n diep-oranje skemerlig. Die berg een swart massa teen die sonsak-hemel.

Ek dink dikwels aan ons berge, ons almal s’n. Veral nou, in die nuwe jaar, dat hulle so prominent is.

Daar is mos dié wat die bloed deur jou are laat bruis; jy kan nie wag om dit te begin klim nie. Hoër en hoër tot daar waar ons beloon word met ‘n nuwe perspektief, ‘n groter prentjie.

Daar is ook ander wat soos … wel, ’n berg voor jou lê. Onbeweeglik. Pad-versper-groot. Onoorkombaar massief. Jy sal daar moet óór as jy anderkant wil kom. Dit sal moed vra, deursettingsvermoë. En soms laat dit ‘n mens moeg langs ‘n steilte neersak. Die trane in jou oë so baie dat jy nie eens die halfpad-uitsig kan waardeer nie.

Juis hier help Paulus, medeklimmer, se oortuiging my: “… geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here” (Rom 8:38-39).

Dit help my veral wanneer die berg wat voor my lê so onmoontlik hoog lyk. Wanneer ek dit teen wil en dank aandurf – en gou besef watter onbegonne taak dit eintlik is. Wanneer die paadjie selfs steiler is as wat dit aanvanklik gelyk het. Wanneer my knieë en my hart begin swik.

Die geheimenis lê dalk juis hierin: Dat ons begin besef hoe God se liefde voel en ruik en proe wanneer ons ‘n berg of twee in die lewe moes klim. Dat ons sien hoe God se liefde lyk wanneer ons berge saam met ander stappers aandurf. Dat ons met ‘n sekerheid kan sê dat God se liefde ons nooit, ooit verlaat nie. Want ons het die kruin bereik. Al is dit met ‘n voos gestapte siel en ‘n moeë hart.

So, huil-huil, twyfel-twyfel, kom ek tog bo uit. Ja, voor ek dit mooi besef, het ek die berg oorwin. En ek het oorleef.

En die beloning wag – ’n nuwe uitsig oor die landskap waarin ek werk en leef. ’n Nuwe verstaan van myself. ’n Nuwe perspektief op God en sy goedheid.

 

Vandeesmaand fokus LiG op Epifanie, die fees van Christus se verskyning. Mag dié uitgawe jou help om in hierdie lig ook jou berge aan te pak. Om uiteindelik te weet, saam met ander gelowiges, van die “niks” wat ons kan skei van die liefde wat daar in Jesus Christus is nie.

Francine-handtekening

Ons Vader se droom

My neef se seuntjie is drie jaar oud. Petrus hou van trekkers en modder en bal skop.

Eendag vra die juffrou in Petrus se kleuterskoolklas: “Wat wil jy word wanneer jy eendag groot is?” Een na die ander antwoord die maatjies: ’n dokter, ’n apteker.

Toe draai sy na Petrus toe en vra: “En jy?”

Hy het haar stip in die oë gekyk, sy gesiggie in ’n kwaai frons geplooi, en toe gebrom: “’n T-Rex!”

’n Vreesaanjaende, reuse-dinosourus. Dalk nie heeltemal wat die juffrou in gedagte gehad het toe sy dié vraag gevra het nie … Maar die kordate antwoord laat ’n mens tog wonder watter groot drome dié klein seuntjie alles oor sy toekoms droom.

 

Jesus was twaalf jaar oud toe Hy saam met sy ouers Jerusalem toe gegaan het om die Joodse Paasfees te vier. Dink jou in: ’n plattelandse seuntjie wat hom ná ’n lang reis in ’n groot stad bevind. Daar tussen al die mense, by die tempel met sy streng leiers en groot geleerdes.

Sy pa was ’n skrynwerker, en hy sou die klein Jesus al lankal begin leer het hoe om met beitel en saag en hamer en spykers te werk. Dit was ’n uitgemaakte saak: Hy sou ’n skrynwerker word. Soos sy pa. Niemand sou eens daaraan dink om Jesus oor sy toekomstige beroep uit te vra nie.

Toe, tydens daardie besoek, beland Hy mos in die tempel waar Hy tussen die geleerdes sit en na hulle luister en hulle uitvra. En toe Josef en Maria Hom daar kom soek, sê die jong Seun vir hulle: “Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie?” (Luk 2:49). Jesus het tóé reeds geweet dat Hy vir groter dinge bestem is as om bloot in sy aardse vader se voetspore te volg.

Twee dekades later, weer in ’n aanbiddingsplek, sou Hy die Godsdroom wat reeds as ’n seuntjie in Hom was, só uit Jesaja se geskrifte aflees: “Die Gees van die Here is op My omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan armes te verkondig. Hy het My gestuur om vrylating vir gevangenes uit te roep en herstel van gesig vir blindes, om onderdruktes in vryheid uit te stuur, om die genadejaar van die Here aan te kondig” (Luk 4:18-19).

 

Kersfees herinner ons daaraan dat God ons reeds by ons geboorte met ’n Godsdroom geseën het. ’n Droom wat aan elkeen ’n unieke roeping gee om aan God se koninkryk te bou. En die Kind uit Betlehem kom wys ons hoe om daardie droom te verwesenlik – met ’n allesoorheersende liefde vir God en sy Woord, ’n diepe afhanklikheid van die Vader en ’n onwrikbare gehoorsaamheid aan die Heilige Gees.

Die Vader het ons lief genoeg gehad dat Hy sy Seun gestuur het sodat ons kan sien hoe die verwesenliking van ’n Godsdroom lyk. Sodat ons daaruit kan leer, en self kan beleef hoe lieflik die gevolge daarvan is.

Ons hier by LiG se gebed is dat Kersfees 2016 weer die Godsdroom in jou sal wakker maak. Sodat jy met die krag en die moed van ’n … T-Rex (as jy wil!) daardie droom kan najaag.

Francine-handtekening

Om moedig te wees

Francine-Sept2016Moed, lees ek op ’n keer, is nie die afwesigheid van vrees nie. Dit is eerder om ten spyte van jou eie bang wees te besef dat daar iets belangriker as die vrees is.

Dit kos moed om regtig te leef. Om aan te hou glo. Om aan te hou groei.

Wanneer die lewe en sy eise my bang en oorweldig laat voel, gaan besoek ek dikwels ’n spesiale plekkie in my hart waar ek stories oor waagmoedige mense bêre.

Daar is byvoorbeeld dié een oor my ouma. Sy het vanjaar 90 geword. Sy stuur vir my e-pos na e-pos vol geselsies oor haar (en die res van die familie) se doen en late. Elke keer verbaas dit my dat sy die tegnologie so goed kon baasraak. Dat sy die iPad wat my oom vir haar as ’n geskenk gekoop het, so bekwaam leer gebruik het. Sodat sy deur hierdie moedige daad haar familie se lewe kan verryk.

Dan is daar my vriendin wat besluit het om haar vaste werk vaarwel toe te roep, haar tasse te pak en ’n grafiese ontwerpkursus in Kanada te gaan volg. Vol moed het sy op daardie vliegtuig geklim – en ten spyte van haar vrese, ’n nuwe land en lewe en uitdaging binnegestap.

In hierdie maand se LiG het ek sommer ’n hele klomp mense ontmoet wat voortaan in my wanneer-ek-bang-is-en-inspirasie-nodig-het-plekkie weggebêre sal word.

Daar is Gwen Phillips, enkelma van twee seuns in hulle twintigs, wat besluit het dat sy matriek wil voltooi. Bedags werk sy by ’n skool vir gestremdes én sy bedryf ’n naskoolse huiswerk-klub vir kinders in Macassar. Om dan boonop vir jou eie matriekstudies kans te sien … Dit vra merkwaardig baie moed!

Daar is Ivan Zimmermann, wat soos ’n hedendaagse Marco Polo deur die Ooste getoer het. Op ’n fiets, 13 000 kilometer ver. Dít is die soort moed en durf wat my inspireer om my eie grense te verskuif.

Ook Estienne Lingenfelder, wie se kleinseun baie siek is, se moed laat my verbysterd. Hierdie ouma vertel hoe sy haar krag in God vind. Die geweldige hartseer en vrese wat dié familie moet trotseer, word egter verdwerg deur hulle geloof in God. Dit vra moed om te midde van dit alles in God se liefde en grootheid te bly glo.

Daar was van altyd af ’n spesiale plek in my hart vir die vrou in Lukas 8. Sy wou só graag gesond word, en sy het ál haar moed bymekaargeskraap om aan Jesus se kleed te raak. “Toe die vrou sien Hy weet dit is sy, het sy van angs gebewe en voor Hom kom neerval. Daar voor al die mense vertel sy Hom toe waarom sy Hom aangeraak het en hoe sy onmiddellik gesond geword het. Toe sê Hy: ‘Dogter, jou geloof het jou gered. Gaan in vrede!’” (Luk 8:47-48).

Hoe wonderlik is dit tog as God mense oor ons pad bring om ons te laat besef dat hulle ook maar bang is! Dat Hy ons wys hoe hulle die moed aan die dag lê om te waag, om deur te druk, omdat hulle weet daar is iets belangriker as die vrees wat soos ’n klip in jou hart lê.

Daar is nuwe horisonne om te ontdek, daar is dieper dinge wat God vir ons wil ontsluit, daar is ’n groter lewe om te leef. En, daar is ook mense wat wys hoe ware moed lyk. Nee, nie ’n vreeslose instorm in ’n bedenklike situasie nie, maar ’n waagmoedige instap daarin. Omdat hulle weet dat die God wat ons moed gee, saam met ons in daardie situasie is.

Francine-handtekening

Geloof, hoop en liefde

Francine-Sept2016Een van my vriendinne hou die anderdag ’n prettige partytjie met die tema: “Só sal jy my nooit weer sien nie!” Ons het omtrént gelag vir die vreemde uitrustings waarmee elkeen daar opgedaag het.

Alhoewel ek nie saam met hulle só in die openbaar sou wou verskyn nie, sou ek tog nie omgee om hulle weer só te sien nie. Ons vriendskap is darem te waardevol en deurleef om deur iets soos ’n “interessante” gewaad bederf te word …

So tussen die gelag en geterg deur, het ek besef dat gesonde vriendskappe darem bloedweinig met die uiterlike te doen het. Of jy nou ski pants saam met ’n skool­baadjie dra, of ’n neon-pers pruik op jou kop het, jou goeie vriende bly lief vir jou.

En ek het daardie aand weereens besef: Vriende wat vir jou lief is, laat jou werklik lééf.

 

Tydens die pasafgelope Olimpiese Spele in Rio de Janeiro het Suid-Afrikaners gesien hoe Luvo Manyonga ’n silwer medalje in die verspring wen – en die hele land het saam met hom van vreugde gespring (al was jou sprong dalk net van die rusbank af tot op die vloer …).

Luvo se storie gaan egter oor meer as ’n paar reusespronge in die verspringput: Hy is ’n begaafde atleet wat reeds in 2010 die atletiekkenners se aandag getrek het, maar ná ’n ruk geskors is nadat hy in tik-verslawing se doodse spiraal verstrengel geraak het. Toe kry hy die kans om ’n nuwe blaadjie om te slaan – en hy gryp dit met albei hande aan.

Die mense rondom Luvo – sy ma, ander sportmanne, afrigters en administrateurs het hom gehelp om teen die dwelm-stroom in te beweeg – boontoe, lewe toe.

Dit is hulle wat vir Luvo daardie tweede kans geskep het. Deur hulle gebede en ondersteuning het hulle aan hom hoop gegee, die vooruitsig om sy talente op wêreldsport se hoogste vlak te gaan uitstal.

Mense wat jou hoop gee, gee jou éintlik die kans om jou potensiaal te verwesenlik.

 

Toe lees ek weer in Markus 2 oor die verlamde man en sy vier brawe vriende. Hoe laasgenoemde die dak van die huis waar Jesus mense toegespreek het, oopgebreek het om hulle vriend en sy draagbaar tot by Jesus te laat sak.

En: “Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde: ‘Vriend, jou sondes word vergewe!’” (Mark 2:5).

Jesus het daardie vriende se geloof raakgesien …

In sy boek, Jesus ruik na mirre en stof, skryf Pierre du Plessis dat ’n mens soms een van die vier op die dak is, en ander kere die een wat op die draagbaar lê. Vriende wie se geloof (en twyfel) die lewe se toets deurstaan het, doen ook iets aan jou geloof. Ja, dit is dikwels ánder mense se geloof wat jou help om jou oë op Jesus gerig te hou.

Vriende wat glo, help jou om die Ware Lewe te ontdek.

 

In my lewe is ek toenemend daarvan bewus dat ek liefde nodig het om sinvol te kan leef. Dat ek geloof nodig het om my lewenskoers te handhaaf, en dat ek die hoop moet behou om die volgende tree te kan gee.

En wanneer ek in ander se lewe en hart en oë die spore van geloof, hoop en liefde sien, is ek van voor af vasberade om my met dié besonderse eienskappe te omring. Van nuuts af geïnspireer om God te vra om ook in en deur mý te werk – sodat ek ander mense kan help om waarlik te leef, om met geloof, hoop en liefde hierdie lewe tegemoet te gaan.

Francine-handtekening

Krone

Francine-Sept2016Elke kind in ons kleuterskool het op sy of haar verjaardag ’n kroon op die kop gekry, uit karton gemaak en met blinkers en Pritt versier. Die verjaardagmaatjie het dan dié kroon heeldag met ’n breë glimlag gedra.

Iewers, hier teen speeltyd rond, het die kroon wel ’n klompie kreukels en kolle bygekry, veral ook omdat die blinkoog-maatjie nie opgehou klim en klouter het nie. Maar teen huis-toe-gaan-tyd was die verrinneweerde kroon steeds stewig op die kop.

Dit was immers die bewys van jou spesiale status. Die blinkers was minder, die karton valer. Maar die kroon was ’n kroon. Al was dit van karton. Al was dit vir één dag.

 

Ek onthou mý kroon toe ek die jaar vyf geword het. Dit was van blou karton, en die blinkers het reg rondom geglins­ter. Ons juffrou het ’n groot “5” aan die voorkant ingekleur. My naam is in koki-pen aan die binnekant geskryf.

En ek kan nie meer die detail van die ramp onthou nie, maar toe my ma my daardie middag kom haal, was my kroon skoonveld. En ek natuurlik in trane.

Ek onthou hoe ons reguit na die kinderhuis toe gery het. Hoe my ma uit die kar geklim en ek deur die ruit gekyk het hoe sy by die gebou met die groot vensters ingaan.

Toe sy terugkom was my blou kroon in haar hand. Maar toe selfs gehawender as wat dit ooit was. Aan die binnekant was die letters in koki darem steeds daar – dié wat my naam uitgespel het.

Ek onthou hoe ek die kroon sommer daar in die kar versigtig op my kop gesit het, en hoe ek gekyk het na die blinkers wat aan my vingerpunte gekleef en dit laat skitter het.

 

In Psalm 103 breek Dawid se hart oop in ’n loflied oor God se goedheid. God wat sy sonde vergeef, sy siekte genees, wat hom die goeie in oorvloed laat geniet. God wat hom met liefde en ontferming kroon (vers 4).

Kan dit wees? Gee Hy liefde aan dié wat krone afruk en daarop trap? Ontferming aan hulle wat ander se krone steel? Goedheid vir dié wat so kerm en kla as daar van hulle verwag word om soms ’n doringkroon te dra?

Ja, sê Dawid. Só is God. Hy, die Groot Koning, kroon óns. Met sy liefde, ontferming en vergifnis.

 

As ek haar ooit weer sou sien, daardie kroondief-dogtertjie, sou ek aan haar wou sê: “Weet jy dat die kartonkroon toe in die asblik beland het? Dit het minder as ’n week gehou.

“Maar daar is ’n ander soort kroon,” sou ek byvoeg. “Een wat vir ’n baie, baie lang tyd gaan hou. En het jy geweet,” sou ek vra, “dat ’n mens hierdie kroon net met jou geestesoë kan sien? Dit is vir elkeen wat glo dat Jesus Koning is.

“Aan die binnekant is daar wel ook ’n Naam geskrywe. Dit is die Naam bo alle name, dié van die Een wat aan ons wys hoe genade lyk – vir dié wat krone steel, en ook vir hulle wat so min verstaan en ander nie ‘n kroon gun nie.”

Francine-handtekening

Wanneer jy koringkorrels kou …

FrDit was een van my maatjies wat my die eerste keer die gommerige geheim van koringkorrels geleer het. Ek het by haar op hulle plaas gekuier toe sy ’n hand vol koring – wat nie na die Sasko-fabriek of terug grond toe sou gaan nie – van ’n hoop afgeskep het.

“Nou moet jy dit kou,” het sy gesê en ’n vuis vol koring in my oop hand laat val. “En moenie sluk nie.”

Ek moes kou en kou en kou. En toe, ná wat soos ’n ewigheid gevoel het, het ek dit teen my verhemelte en op my tong gevoel: hoe die koringkorrels verander het. Dit het jou wrintiewaar, met al die kouery, in kougom verander.

Hoe verwonderd was ek nie! Dat God méér as net brood in die koringkorrels weggebêre het. Dat Hy so kreatief is om selfs kougom in ’n hand vol koringkorrels op te sluit.

Ek het onlangs begin lees aan ’n boek deur ’n Amerikaanse pastoor se vrou. Passievol verduidelik sy hoe God ons gemaak het om helde te wees. Hoe ons vir ’n spesifieke doel gemaak is, en hoe ons ten alle koste daarna moet streef om dié doel te bereik.

Voorheen het sulke boeke my ’n beklemming om die hart gegee. Ek het altyd gewonder: Wat gebeur as ek nooit my doel bereik nie? Hoe lyk “my doel” in elk geval? En sê nou ek mis daardie presiese oomblik waarvoor ek gemaak is?

Die lewe se meule het intussen gelukkig daardie bekommernisse getem. Die wete dat my doel in die lewe ’n reeks aaneenlopende geleenthede is en nie net een definitiewe oomblik nie, het my rustiger laat leef. God se wysheid is darem gans te ryk en veelvuldig om een persoon met net een, uitsluitlike doel te maak.

Dit het my wel ook laat besef dat ek my geleenthede moet aangryp. Dat ek dié waarin ek my roeping en doel kan uitleef, met ywer moet uitsoek en gebruik.

Maar wat van al die kanse wat ek verspeel het? het ek toe ook gewonder. Wat van daardie oomblikke waarin ek nie gereageer het op die aanporring in my hart nie? Toe ek juis dit waarvoor God my geroep het soos korrels deur my vingers laat glip het?

Wanneer sulke gedagtes my takel, herinner ek my aan daardie koring op die weggooi-hoop. Dit sou dalk nooit verdere graanlande voortbring of kos aan hongeriges voorsien nie. Maar dit kan tog iets anders word.

Iets verrassends, iets nuuts. Iets wat ook iewers vreugde kan bring.

Baie van ons verspeelde kanse lê ook iewers rond.

En ja, sug jy, sommige is nou totaal buite jou bereik. Dáárdie oomblik, dáárdie mens, dáárdie omstandigheid sal nooit weer jou pad kruis nie.

Maar soms … kry jy die genadige geleentheid om uit daardie stapel verspeelde kanse weer ’n hand vol te gaan skep.

En dan moet jy maar begin kou. En kou en kou en kou.

Want ’n koringkorrel het meer as ’n goeie oes of ’n varsgebakte brood in hom.

‘n Bondeltjie goeie werke

Francine-feb2016Een van die lekker dinge van ouer word, is dat jy uiteindelik begin uitpluis hoe ons hierdie lewe moet leef. Ja, ons begin stadigaan begryp hoe om ons rol in dié wipwa-rit van ’n immer herhalende dieprooi herfs, sorgelose somer, ingewikkelde winter en bollemakiesie-mooi lente ten volle te vervul.

Vandat ek my ouerhuis verlaat het, het ek met dié groot vraag geworstel: Hoe moet ek leef? Hoe wil God hê moet ek leef?

Ek het gewonder hoe ek die maer man by die verkeerslig moet groet. En of ek vir die kind voor Checkers ’n broodjie moes koop. Mag ek maar so baie geld op ’n paar stewels bestee? En is dit regtig oukei om ’n hele Saterdag lank leeg te lê?

Só was Psalm 25 ook een van my gebede, saam met Dawid – en dan veral vers 4: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie.”

Daarom is dit vir my so ’n groot voorreg om betrokke te wees by die uitgee van ’n tydskrif soos LiG. Die stories wat ek hier lees, dui dikwels ’n koers aan, of gee my ’n hupstootjie op my lewenspad. Sommige verhale tref jou op ’n baie diep vlak en laat jou hart inderdaad ’n ander koers kies. Ander stories bêre jy, soos ’n kosbare stukkie padkos, sodat jy dit later met ’n medereisiger kan deel.

 

Met die oog hierop word elke maand se voorbladstorie noukeurig gekies. Ons word immers gefassineer deur mense wat in die kollig leef. Ons stel daarin belang om te weet hoe hulle gekom het waar hulle is. Was dit talent of harde werk? Wat het hulle gemotiveer of hulle genadebesef aangevuur? Was hulle lewenspaadjie vol benutte geleenthede – en was daar dalk ’n skeutjie geluk by?

Dit alles spoor ons aan: Dalk moet ons ook soos hulle begin maak! Of dalk moet ons groter begin droom.

Vandeesmaand se voorbladstorie oor Hanna Grobler het my gedagtes en my hart langer as gewoonlik besig gehou. Die prentjie van die jong skooldogter wat met haar fiets Pep Stores toe ry om vir arm kinders onderklere te gaan koop, het in my kop bly draal. (Lees hieroor op bl 12.)

Wat het haar so ’n besluit laat neem? het ek dadelik gewonder. Waarom het sy nie, soos die meeste van ons sou, saam met haar maatjies sommer net in die straat fietsgery en lekker gespeel nie? Wat het haar toe al gedryf om die stem in haar hart te gehoorsaam?

Toe onthou ek: Paulus skryf mos in Efesiërs 2:10 dat God elkeen van ons in Christus Jesus geskep het om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het.

En toe wonder ek: Was Hanna en haar fiets en die Pep Stores in hulle dorp deel van daardie goeie werke waarvoor God haar gemaak het?

En wat is die bondeltjie goeie werke wat ék moet doen? Hoe lyk die reeks goeie dade waarvoor God mý gemaak het?

En hoeveel daarvan jaag ek doelbewus na, leef ek elke dag uit?

 

Dankie Hanna. Dankie dat jy ons weer daaraan herinner hoe ons ons lewe moet leef. Hoe elkeen van ons geroep is vir goeie werke in Hom.

Jy inspireer ons om na God se stem in ons te luister. Om op ons fiets of uit ons gemaksone of in ander mense se skoene te klim. Sodat ons daardie unieke bondeltjie goeie werke waarvoor God ons geroep het, met ywer en liefde en vreugde kan gaan doen.

 

Geheime plekke

FrDie klipkoppie agter my ouerhuis was ’n paradys met populier­bome, sandsteenrotse en wegkruipplekke in die lang gras. Wanneer die maatjies kom speel het, is ons teen daardie koppie uit. Daar was avonture om te gaan soek!

Daar het natuurlik ’n stadium gekom dat mý maatjies en my broer s’n onder geen omstandighede naby mekaar gesien wou wees nie. Daarom het ons besluit om elkeen “óns geheime plek” in die koppie te gaan afbaken.

Ons meisiekinders het besluit op ’n opening tussen ’n paar jong populierbome. Dit sou die ideale geheime plek wees, het ons gereken en dit met takke en ’n paar klippe gaan merk.

Die seuns het egter gou-gou daarop afgekom, en die takke wat ons so sorgvuldig neergelê het, is met tipiese seunsgeweld rondgeslinger en uiteindelik weggesmyt. En só is ons geheime plek, wel … nié-geheim gemaak.

Ons was erg ontsteld omdat die seunskinders dit so verinneweer het, en uiteraard het ons wraak gesweer. Maar eers moes ons nogal ver gaan soek na húl geheime plek – en toe kom ons heel per ongeluk daarop af. ’n Smal ruimte tussen twee groot rotse, onsigbaar vanaf die paadjies waarop ons gewoonlik geloop het.

Ek wens ek kan sê dat ons toe nié wraak geneem het nie. Maar ons het. Die populierskerm en die klippe wat hulle gebruik het om hul plek af te baken, het behoor­lik deurgeloop. En so was hul geheime plek, soos ons s’n, nie meer ’n geheim nie.

Maar tog was daardie eens geheime plekke vir die res van ons kindertyd dié ruimtes waar ons die heel lekkerste bly speel het. Hier kon ons ontdekkers wees, en weg­kruipers. En ons kon ons verlustig in die populiere wat bokant ons uitgeto­ring het, die lang gras wat in die windjie teen ons kaal kniekoppe gepiets het, en die skurwe sandsteenrotse wat met hul erosie-oë oor ons wag gehou het.

Ek dink vandag dikwels hieraan terug. En verwonderd besef ek hoeveel ek daar oor God geleer het.

Daar tussen die rotse, en met die gate wat deur duisende jare se winde en waters in die sandsteen gevorm is, was dit vir my maklik om my die Heilige Gees se krag te verbeel. Hoe Hy, soos wind en water, ’n harde hart ’n nuwe vorm kan gee.

In die sagte wind wat sug-sug die gras laat ruis het, het ek die Gees gehoor soos Hy in ’n mensehart fluister.

Ja, wanneer ek die rotse van my kindertydse geheime plek steeds in my geestes­oog sien, verstaan ek wat Dawid bedoel het toe hy gesê het: “My toevlug en my bergvesting, my God op wie ek vertrou.” En ek kan dit met my hele hart beaam.

 

Later het ek besef dat dit wat daar tussen my en God plaasgevind het, eintlik op enige ander plek ook kan gebeur – ’n ontmoeting met Hom op ’n stil plek, eenkant. Weg van ander oë.

Daarom het ek alle rede om te hoop dat vandeesmaand se LiG vir jou ’n wegkomkans sal wees. Die artikels en stories is só gekies dat dit jou na ’n ander plek kan neem. Dalk beleef jy dit as ’n soort geheime plek waar jy God opnuut kan ontmoet. Mag jy dan daar beleef hoe die Heilige Gees aan jou hart ’n nuwe vorm gee, en mag jy duidelik hoor wat Hy vir jou fluister.

Lekker lees!

Die vreugde!

Francine-feb2016Ek het al gewonder hoe dit moet wees om agter ’n roomystoonbank te werk. Om elke dag mense se lyftaal te sien wanneer hulle voor die toonbank kom staan en na die heerlikhede agter die glasafskorting kyk.

Daar is mos eers die hande wat in plesierige afwagting saamgevryf word, en die lyf wat so oorleun om al die moontlikhede van nader te bekyk. Die oë wat groot oop rek, en begin vonkel. En die mond wat in ’n glimlag plooi – en dán die “ooeee!” of die “hmmm …” om aan te dui: Dít is wat ek wil hê, dáái ene!

En ek-agter-die-toonbank sal tot in my kleintoontjie lekker kry oor die roomys­koper se plesier.

 

Vir diegene wat al ’n lang pad met God stap, is die Paasverhaal al só bekend dat ons dikwels die gebeure wat daar be­skryf word … bloot aanhoor. En dit dan soos ’n storieboek eenkant laat lê – mooi om te hoor, maar min met ons daaglikse lewe uit te waai.

Ja, ons hoor van Jesus wat die dood oorwin het, van God wat Hom gestuur het om ’n offer te wees. En op Paassondag groet ons mekaar met: “Hy het opgestaan!”

Ons hoor dat ons ’n lewe vol vreugde en vrede kan hê. Dat ons ’n doel het om voor te leef. Dat ons altyd hoop het in Christus.

En dat ons – sommer so in die middel van ons lewe – weer van voor af kan begin. Nie net een keer nie, maar sewentig maal sewe keer. En selfs wéér ’n keer, as dit moet.

Maar as jy elke Paasfees die storie van Christus se soete oorwinning aanhoor, maar dit nooit aangryp en deel maak van jou hart se verstaan van die wêreld nie, is jy soos ’n mens wat besluiteloos voor ’n roomystoonbank bly staan. Wat net staan en kyk, en wonder, en twyfel – en só nooit van daardie roomys proe nie.

En diegene wat reeds die soete vreugde van Christus se opstandingskrag in hulle lewe ervaar het, maar dit vir hulle self hou? Hulle is soos dié wat ’n hele yskas vol roomys het, maar nooit die geleentheid gebruik om die vreugde daarvan met ander te deel nie.

 

Toe ons redaksie ’n tydjie gelede besluit het hoe vandeesmaand se LiG moet lyk, was ons gebed dat daar ’n goue draad deur al die woorde en stories en foto’s sal loop. Dat daar tog ’n stem – al is dit fluisterend – van elke bladsy af dít sal eggo: Christus is koning! Christus bring nuwe lewe!

En terwyl ek nou hier sit en skryf, verbeel ek my dat ek agter ’n toonbank vol heerlikhede staan. Dat ek in die bevoorregte posisie is om aan jou ’n soete wonderwêreld uit te wys.

Dat ek langs jou kan kom staan en jou help kyk – kýk daar! Lees hiér! Sién die wondersoete krag van Jesus se opstanding! Beleef dit op elke bladsy in hierdie Paasuitgawe!

Mag jou geestesoë en -ore oop wees vir die Gees se fluisterstem, en mag jy sy waarheid met alles binne-in jou aangryp. My hoop is dat Jesus se dood en opstanding jou alledaagse lewe minder alledaags sal maak, en dat dit jou sal help om ’n diepe vreugde te ervaar.

En mag jy dit tog ook beleef hoe ander mense se gesig ophelder en hulle hart bokspring wanneer jy hulle hiervan vertel.

 

Geseënde Paasfees, liewe leser.

Die Here het opgestaan! Die Here het waarlik opgestaan!

1 2 3